1 Corinthians 3
1 Wat my betref, broers, ek kon nie met julle praat soos met geestelike mense nie, maar wel soos met wêreldse mense, soos met klein kindertjies, in •Christus.
2 Ek het julle melk gegee om te drink, nie vaste kos nie, omdat julle nog nie daartoe in staat was nie. Selfs nou is julle nog nie daartoe in staat nie,
3 want julle is steeds wêrelds. Waar daar onder julle afguns en onenigheid is, is julle dan nie wêrelds, en gedra julle julle dan nie soos wêreldse mense nie?
4 Elke keer as een van julle sê, “Ek is van Paulus,” en 'n ander, “Ek van Apollos,” is julle nie wêreldse mense nie?
5 Wat is Apollos nou eintlik? En wat is Paulus? Hulle is dienaars deur wie julle tot geloof gekom het, soos die Here dit vir elkeen van hulle gegee het.
6 Ek het geplant, Apollos het natgegooi, maar God het laat groei.
7 Daarom is nóg hy wat plant, nóg hy wat natgooi iets, maar slegs God wat laat groei.
8 Dit is een wat plant, en dit is een wat natgooi, en elkeen sal sy loon volgens sy eie arbeid ontvang.
9 Ons is medewerkers van God; julle is God se saailand, God se bouwerk.
10 Volgens die genade deur God aan my gegee, het ek soos 'n bedrewe bouer 'n fondament gelê, en 'n ander bou daarop. Elkeen moet egter let op hoe hy daarop bou.
11 Want niemand kan 'n ander fondament lê as wat reeds gelê is nie – dit is Jesus •Christus.
12 Of iemand nou op die fondament bou met goud, silwer, kosbare stene, hout, gras of strooi –
13 elkeen se werk sal duidelik word, want dié dag sal dit aan die lig bring. Deur vuur sal dit geopenbaar word, en die vuur sal die gehalte van elkeen se werk op die proef stel.
14 As iemand se bouwerk behoue bly, sal hy sy loon ontvang.
15 As iemand se werk verbrand word, sal hy skade ly – hoewel hy self gered sal word, maar soos deur vuur heen.
16 Weet julle nie dat julle 'n tempel van God is, en dat die Gees van God in julle woon nie?
17 As iemand die tempel van God skade aandoen, sal God hom skade aandoen; want die tempel van God is heilig, en dié tempel is julle.
18 Laat niemand homself bedrieg nie. As iemand onder julle in hierdie wêreld meen dat hy wys is, laat hy dwaas word, sodat hy wys kan word;
19 want die wysheid van hierdie wêreld is dwaasheid by God. Daar staan immers geskryf: “Hy vang die wyses deur middel van hulle eie slinksheid;”
20 en ook: “Die Here ken die redenasies van die wyses, dat dit niksseggend is.”
21 Daarom moet niemand hulle op mense beroem nie. Alles behoort tog aan julle:
22 Of dit Paulus of Apollos of Sefas, of die wêreld, of lewe of dood, of teenswoordige of toekomstige dinge is – alles behoort aan julle.
23 Maar julle behoort aan •Christus, en Christus aan God.